Soek

Lees, leer en gesels saam

Neem deel aan die gesprek en lewer kommentaar op artikels deur op die kommentaar-skakel onder elke berig te klik.  Dit kan ook anoniem gedoen word.

As iets wat jy lees jou prikkel, vertel ons daarvan by Praat Saam

====================================

Wednesday
Feb222012

Lydenstyd 2012 As-Woensdag

‘As julle vas, moet julle nie soos skynheiliges met lang gesigte rondloop nie. Hulle mismaak hulle gesigte sodat die mense kan sien dat hulle vas. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.” (Mat 6:15)

Lydingstyd is ‘n tyd waarin ons ons outentiekheid, ons egtheid op die proef kan stel. Dit is maklik om al gaande weg te drywe van die waarheid. Ons kan onsself ‘n klomp dinge verbeel en dan word ons dade maar net rollespel waarin ons ander en onsself beter wil laat lyk in mekaar se oë. Dit bly egter ‘n oomblik van verheldering en verligting wanneer jy na jouself kyk en jouself aanvaar vir wie jy is. Ons hoef nie verskoning te maak vir die feit dat ons nie volmaak is nie. Ons hoef nie weg te skram van die feit dat ons dikwels ontrou is nie. Om eerlik te wees, is om die (gebroke) feite in ons lewens te herken en te erken.

Om ons hiermee te help, voorsien lydenstyd aan ons wonderlike hulpmiddels. Dit is die dissiplines waarmee ons in hierdie tyd besig is; Gebed, vas, maar ook ander, soos om meer weg te gee, meer tyd met die Bybel te spandeer en om skuldbelydenis ernstig op te neem. Begin deur weer stilte te herontdek, maak tyd om regtig vir minstens 10 min twee keer per dag net in stilte by God te rus. Sien werklike nood raak en gee daar waar dit ʼn verskil kan maak. (Ek bly skepties of dit ʼn verskil maak om vir die bedelaar by die verkeerslig te gee, maar dit is jou besluit. Kyk elders op die blad na ander aksies wat ook nood het, waar mense reeds betrokke is.). Vas bly vir baie ʼn uitdaging. Kyk na die oordaad in jou lewe en begin om dit af te lê.

Om met hierdie praktyke besig te wees, is nie ‘n las nie. Inteendeel, dit bring nuwe betekenis en vreugde in jou lewe. Lydingstyd, die tyd waarin ons aan Christus se lyding vir ons dink, bly altyd ‘n wonderlike tyd van nuwe groei en nuwe potensiaal. (Artikel deur Fr Laurence – vertaal en verwerk)

 

 

 

Wednesday
Feb082012

WOORDE, WOORDE, ALLES NET WOORDE

Ek kom agter ek spandeer al hoe meer tyd op Facebook. Jy sien, ek word ingesuig in kerklik-teologies debatte. Ek is besig om dit te volg soos ʼn verveelde huisvrou haar daaglikse sepie volg. Die debatte is wild. Op sommige bladsye word mense geblok om dit hulle te kru en onbeskof raak. Ek reageer bykans nooit nie, sal net ʼn enkele vraag vra omdat ek nie dink ek opgewasse is vir die debatte nie. Die debatte wat veral reaksie uitlok is die oor homoseksualiteit, die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2 en die opstanding van Jesus. Soms wil ek saam met een groep se siening stem en dan weer saam met die ander. Daar is altyd twee kampe en baie min middelgrond. Ek word tot my sinne terug geruk wanneer  ʼn onskuldige gelowige op die gesprekke afkom en met verbasing reageer: “Is dit hoe Christene met mekaar praat? Nee, dankie ek wil nie deel wees van julle nie!”

Ek sit terug en dan dink ek by myself, hoe kan mense in die gesprekke soms so laag daal dat gelowiges mekaar name noem, mekaar hel toe stuur “want die Bybel sê so”!? Ek glo verseker aan oop en eerlike kommunikasie, maar werklike kommunikasie vind plaas waar mense ervaar hulle word gehoor. Dit is egter die groot probleem, terwyl ek met jou praat, formuleer jy klaar ʼn antwoord en wanneer jy antwoord is ek al besig om te formuleer. Dit is nie kommunikasie nie, dit is uitruil van sinskonstrukte, die aflê van gestruktureerde argumente, die rasionele wedersydse debatvoering waar die een met die langste en beste argument as wenner uit die stryd tree. Ek kan jou nie verder oortuig nie, ek het nie meer skietgoed nie. Jy wen en ek verloor en so is ons eintlik “die hel in”. (Ek wonder of dit nou letterlik of figuurlik is?)

Om te praat en om te luister en om te kommunikeer?? Ek dink dit is hoekom ek al hoe meer lief raak vir stilte. Ek besef en beleef, ja, bykans daagsliks, dat as ek God wil hoor, dan moet ek stil bly. Indien ons mekaar wil hoor, sal ons ook eerder moet swyg. Nou hoe vind kommunikasie plaas wanneer ons beide swyg? Ek vermoed dat ons groepie wat Vrydag-oggende vir 30 minute bymekaar kom om saam in stilte sit, dalk beter met mekaar kommunikeer, en God op Sy beurt met ons kommunikeer, as toe ons baie gepraat het. Êrens in die misterie van gebeure vind daar kommunikasie plaas tussen God en ons en ons onderling wat nie met woorde uitgespreek kan word nie, maar wat in die diepste van ons wese resoneer. Hierdie stilte bind ons aan God en aan mekaar. Laurence Freeman begin altyd intergeloofsgesprekke of konflikhantering met die hierdie gebruik, ons sit eers vir 25 minute in stilte dan begin ons praat.

Ek sou jou so graag wou uitdaag, begin om stilte deel van jou kommunikasievaardighede te maak. Oefen dit deur daagliks tyd in stilte by God deur te bring.

Ps 19:1-5 Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend. Die een dag gee die berig deur aan die ander en die een nag deel die kennis aan die volgende mee. Sonder spraak en sonder woorde, onhoorbaar is hulle stem. Tog gaan daarvan ’n boodskap uit oor die hele wêreld en hulle taal bereik die uithoeke van die aarde.

 

 

Wednesday
Feb012012

Gebrokenheid

Ons samelewing, die tyd waarin ons groot word, ons kultuur, die lewe in die algemeen is op een ding ingestel: Sukses! Sukses is gelyk aan geld, aansien, invloed, mag en gaan gepaard met bepaalde statussimbole wat insluit die regte handelsmerke, voertuig, adres en waar jy vakansie hou. Sukses en gebrokenheid is nie bedmaats nie. En tog, sit ʼn rukkie en gesels – met enige iemand – en jy kom gou agter dat onder die oppervlak is daar gebrokenheid in een of ander vorm. Die bekende Henri Nouwen skryf in sy “Terugkeer van die verlore seun” dat hy nie kan dink daar is iets anders kan wees om oor te skryf en te praat as gebrokenheid nie. Hy meen ons kan nie daarvan weg kom nie.

Ek vermoed dat meeste van ons nie op God se roepstem reageer nie, juis vanweë ons inherente gebrokenheid. Ons meen dat dit net nie moontlik is dat God my vir enige iets sinvols in sy gemeente of wêreld kan gebruik nie. Ek is net te gebroke. Aan die ander kant is die risiko dat indien ek betrokke moet raak, kan jy my gebrokenheid dalk raaksien en minder van my dink. Jy kan myself verwerp want jy is so suksesvol.

Hoe ontsnap ons uit die mentaliteit? Hoe besef ons dat mense is gebrokenes? Worstel so baie van ons nie met sielkundige en emosionele probleme juis omdat ons meen ons misluk terwyl ander, ja, die wêreld, slaag nie. Dalk moet ons die Bybel van voor begin lees en weer die sogenaamde held van die Bybel van nader gaan bekyk. Ons kan maar enige plek begin; Dawid: Moordenaar en egbreker, Rut: Heiden en verleidster, Paulus: Moordenaar. (Kom ons los maar vir Jesus: God wat mens word en sterf as ʼn vervloekte.)

Al hierdie mense het betekenisvolle rolle in die wêreldgeskiedenis gespeel. Hulle het geskiedenis gemaak. Hoe het hulle dit reggekry? Ek dink hulle het hulle gebrokenheid in die oë gekyk en geglo dat God hulle roep, ongeag wie en wat hulle is of gedoen het. In sommige van hulle se lewens was die ingreep radikaal; Paulus het ʼn ontmoeting met Christus. Ander was weer minder radikaal, maar dramaties. Die profeet (lees dominee) spreek vir Dawid aan. Ander was weer niks dramaties nie, net ʼn stem in die binneste wat gehoorsaam word – Rut.

Kyk vanoggend jou gebrokenheid in die oë en neem ʼn besluit, nie noodwendig om van die gebrokenheid weg te kom nie. Dit is nie altyd moontlik nie en waar sonde gebrokenheid veroorsaak is dit soms ʼn lewenslange stryd. Maar kyk dit in die oë, wetende dat God jou intens lief het en jou wil gebruik om die wêreld te verander. Begin vandag daar waar jy is. Dalk is dit juis met jou trane wat jy ander se voete kan mee was.

Wednesday
Jan252012

ROEPING OP VREEMDE PLEKKE

Ek is Maandag saam met ons gemeente se nuwe sendeling, Dominic, in Olievenhoutbosch. Sy gaan hier by ʼn Christenskool vir kinders van gr 1- 4,  midde in die plakkerskamp, help met skoolwerk, bybelstudie en ontspanningsprogramme. Hulle span bestaan uit sewe lede met Themba wat oorhoofs die leiding neem. Themba word egter op ʼn ander plek vasgehou en Maandagoggend moet ek skielik hulle vergadering open. “Jy moet maar sit”, sê een, “ons opening duur ʼn uur”. Ek het nie eens my Bybel by my nie, wat nog van voorberei vir die geleentheid. Maar, dis hoe dit op die sendingveld werk, jy moet reg wees om ʼn woord te kan bring “tydig en ontydig”, herinner ek my.

 Gelukkig vir tegnologie en ek slaan my selfoonbybel oop. Die laaste plek waar ek moes lees was seker Romeine 1 want hy maak outomaties weer daarop. Ek lees van Paulus se eie roeping, hoe die Here Jesus Hom een kant gesit het vir die besondere taak om apostel te wees. Die gemeentelede is egter ook geroep, maar hulle is nie net afgesonder nie, Paulus noem hulle inderdaad die heiliges van God. Hy ag hulle meer as homself. Themba sluit aan en begin saam te gesels. Sy plan was om vanoggend oor roeping te praat, dis waarmee die Here met hom die afgelope tyd besig is. (Dankie Here, U het tog reg gelei vanoggend). Themba praat oor die Here wat hulle roep vir ʼn taak en om te kan luister na die roepstem. Ek wys op die betekenis van roeping in Romeine 1; Jy moet kan hoor en wanneer jy reageer op die roepstem dan stel God jou aan om die roeping tot uitvoer te kan bring.

 Ek dink later by myself, ek was inderdaad in die teenwoordigheid van heiliges wat God gehoor roep het en gereageer het. Hy het hulle daar aangestel vir ʼn besondere taak in hierdie besondere tyd. Hulle het die voorreg om as heiliges met klein kindertjies te kan werk. Mag die kleintjies beleef dat die Heilige self tussen hulle gekom het.

 Wat ʼn wonderlike vreemde God aanbid ons nie...

Tuesday
Jan242012

God onderrig ons deur sy Gees

deur Gerhard Bothma - e kerk

Was jou posbus ook die afgelope ruk tot oorlopens toe vol van pamflette wat alles goedkoper as enige ander plek voorstel? Veral goete, soos skool- en skryfbehoeftes, rekenaars en ander belangrike benodighede vir al die kindergesiggies wat van hierdie week weer – of vir ‘n eerste keer – skooltoe is, is op so ‘n manier aangebied dat ek self aan ‘t koop wou gaan. Gelukkig het my aangeleerde dissipline en ‘n gedagteprentjie van die uitdrukking op die tannie by die bank se gesig my daarvan verhinder. In elk geval hét my ou pen nog ink in en my potlood is nog lank genoeg om vas te hou. En ek het nog ‘n hele hoop papier waarop aan die agterkant daarvan geskryf kan word.

Professor Jonathan Jansen, die rektor van die Vrystaatse Universiteit het ná die bekendstelling van verlede jaar se matriek-uitslae gesê dat die uitslae nie die papier waarop dit gedruk is werd is nie. Hy het verskeie probleme wat in ons skolestelsel bestaan en tot nou toe verbloem is oopgevlek. As sy kinders vandag nog skoolgaande was op universiteit moes wees, sou hy hulle nie in Suid-Afrika wou laat leer nie. Volgens hom is daar ‘n reuse gaping tussen dit wat op jongmense se skool- of universiteitsertifikaat of –diploma staan en dit wat hulle in die werklikheid kan doen. Veral die aanpassing van kinders se punte sodat leerders wat nie eintlik moes nie universiteitstoelating kan verkry en skole meer onderskeidings kan aanmeld, is van ons grootste probleme. “Ons moet terugbaklei teen middelmatigheid”, is deel van sy voorgestelde oplossing vir ons land.

Paulus het sy lesers aangemoedig om hulleself nie aan die standaarde van ander mense te meet en hulleself op die skouer te klop oor hul oënskynlike prestasies nie, maar om God toe te laat om hulle voortdurend te vernuwe, veral deur hoe hulle dink (Rom 12:2). Wat ons nodig het is nie die nuutste en beste skoolbehoeftes nie, maar ‘n behoefte om geleer te word en te leer. Vir die Spreuke-skrywer was middelmatigheid ook nie ‘n opsie nie. Hy het aan die begin van die skooljaar vir ons elkeen wyse raad: “Hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan. Roep insig by, vra na gesonde begrip. Soek dit soos jy silwer sou soek, spoor dit op soos ’n verborge skat” (Spr 2:2-4).  Ja, dit kom nie vanself nie en is harde werk, Maar dit het ook ‘n verder uitvloeisel: “Dan sal jy weet hoe om die Here te dien, sal jy ontdek wat dit is om God te ken” (:5).  Onthou tog dat dit dwaas is om wysheid en opvoeding gering te ag en waak daarteen dat jy dit nie doen nie (Spr 1:7).  

‘n Mens kan genoeg geld hê om al die penne, boeke, liniale en wat ook al op pamflette adverteer word te kan koop, maar as jy jouself nie oopstel om te leer en jouself daarvoor inspan nie, gaan dit wat geld nie kan koop nie by jou verbygaan. God onderrig ons deur sy Gees (Neh 9:20). Mag jy begeer om te leer en jouself daartoe inspan. Mag jy aanhou leer en groei in kennis, insig en wysheid. En mag dit wat ander uit jou woorde en gedrag leer vir hulle meer werd wees as goud en silwer (Spr 16:16).

Wednesday
Jan182012

NUWE JAAR, NUWE HOOP – VAN WAAR?

Vir gelowiges is dit van selfsprekend dat ons bron van hoop God is. Prakties sou dit impliseer dat van uit die Bybel en gemeente ons die werking van die hoop, die omskakeling van die geloof na die praktyk sou ervaar en beleef. Is dit egter nog alles van selfsprekend? Vir jy wat dalk nou hier lees, is die gemeente, enige gemeente, beslis nie meer jou ruimte waar jy jou geloof prakties wil leer ken nie. Jy het dalk lank reeds gebreek met hierdie religieuse instelling wat niks anders as teologiese gimnastiek beoefen nie. Sondag sweef ons in die lug rond en Maandag val ons ons self stukkend in die regte wêreld.

My subjektiewe waarneming is egter dat meeste gelowiges wat hulle rug op ʼn gemeente gedraai het en nou glad nie meer in enige kerk op ʼn geroetineerde basis kom nie, ook dikwels die Bybel agter gelaat het. Nee, nie die Bybel verwerp nie, maar hulle lees dit nie meer nie. Dit is ʼn ou boek met irrelevante verhale. Dit sal jy nie hardop erken nie, maar saggies in jou hart die mening huldig.

Nou bly die vraag, waar kry jy dan jou hoop? Die “hoop” wat ek elke dag via my e-pos ontvang, dit is nou daardie e-posse met die pragtigste foto’s van blomme, berge, arende, katjies en nog vele meer, is dikwels soos spookasem. Die hoop duur solank as die e-pos se lees. Kom ons wees eerlik met mekaar, in die kits-samelewing werk God, met respek, dikwels eerder soos ʼn ou tikmasjien as ʼn tablet. Hy is stadig, die boodskap kom nie altyd deur nie en dit voel vir my ook of die inklint meermale uit is as in.

Tog moet ek oor eerlik wees en erken dat wanneer ek terug kyk op 2011 of 2010 of selfs langer, dan sien ek hoe God getrou gebly het. Dit is wat die Psalmdigter en die profete in die geskiedenis van Israel ook gedoen het. Hulle het meer male aan die kinders van Israel gesê “Dink terug!”. (Jes 44:21 Dink hieraan, Jakob, dink hieraan, Israel, want jy is my dienaar; Ek het jou gemaak, jy is my dienaar. Ek sal jou nie verlaat nie, Israel.)

Dink aan die dinge wat God in jou verlede wel gedoen en gevestig het. Sien Sy hand op die tydslyn van jou lewe en kyk dan vorentoe wetende dat Hoop by God geleë is. Hoop is die stille teenwoordigheid van Iemand groter as ek. Hoop is tussen die bladsye van die “Ou Boek” te vinde. Hoop is tussen die liedere, preke en gesigte van die gemeente te bespeur. Hoop wag vir jou op die mees onwaarskynlike plekke wat jy dalk reeds afgeskryf het. Dalk moet jy juis ter wille van hoop maar weer die Bybel voor jou bed sit en dit saans oopmaak. Dalk moet jy weer waag om in ʼn erediens te kom, dalk moet jy die besoek aan iemand bring wat jy al van vergeet het. Miskien moet jy êrens net tyd maak vir stilte in jou lewe. Mag Hoop jou die jaar verras.

Monday
Dec192011

Die Kersverhaal: Die skaapwagters

Kom ons kyk histories na die Lukas-verhaal. Josef en Maria was in Betlehem vir die volkstelling. Josef het tot die huis en geslag van Dawid behoort. Ten tye van Jesus se geboorte was Josef en Maria verloof en Maria was swanger. Destyds was ‘n verlowing so bindend soos die huwelik vandag is — dit moes formeel ontbind word. Joodse meisies was gewoonlik tussen 11 en 13 jaar oud as hulle getrou het. Swangerskap voordat jy getroud was, was ‘n skande — bruide moes maagde by hulle troue gewees het.

‘n Mens sou verwag het dat Josef en Maria eers verblyfplek by familie sou soek. Ons lees: Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat die kind gebore moes word. Waar het hulle gebly? Lukas sê dat Maria die Seun in ‘n krip neergelê het, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie. Waarskynlik het Maria haar baba gehad in die nederige agterste gedeelte van die ou familiehuis. Hier is die waardevolle diere van die familie ook gevoer en in die winter gehou. Die gastekamer was waarskynlik reeds vol. Betlehem was ‘n klein dorpie weg van die hoofweë geleë. Dit is onwaarskynlik dat daar ‘n herberg sou wees. Waarvan ons seker kan wees, is dat Jesus se begin nederig was.

Lukas sê nie dat Jesus se geboorte enigsins ongewoon was nie. Maar op die oop velde naby Betlehem was daar iets geheimsinnig aan die gebeur. ‘n Klomp skaapwagters was besig om oor hulle skape die wag te hou. ‘n Engel van die Here verskyn aan hulle. Lukas staan meer spasie af aan hierdie verhaal as aan die geboorte van Jesus self. Dit is bekend dat Betlehem een van die belangrike gebiede is waar skape aangehou is vir gebruik in die tempel (offers). As gevolg van hulle beroep is skaapwagters beskou as onrein. In Maria se loflied verwys sy na geringes wat deur Jesus verhoog sal word (1:52). Vir hulle sou die geboorte van die Verlosser beslis goeie nuus gewees het.

Dwarsdeur die Bybel is engele voorlopers van Goddelike optrede en boodskapdraers. Lukas sê dat die heerlikheid van die Here rondom hulle geskyn het. Geen wonder die skaapwagters was bang nie. Die engel stel hulle gerus: Moenie bang wees nie, want ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! Let wel: hierdie Verlosser is vir julle — die skaapwagters, die onreines, die minste — gebore. Die engel sê dat hulle ‘n kindjie toegedraai in doeke in ‘n krip sal kry — dit is vir julle die teken.

Dwarsdeur die Romeinse Ryk was daar inskripsies wat die geboorte van die keiser gevier het — hy het immers vrede na die gebied om die Middellandse See gebring. Caesar was beskryf as ‘n god wat as mens op die aarde rondgeloop het. Lukas gebruik hierdie selfde taal, maar beskryf nou hierdie Joodse pasgeborene van nederige afkoms as die ware Verlosser — die ware Here wat vrede na die aarde sal bring. Die keiser, Augustus, is ‘n vals god.

Die skaapwagters sê dat hierdie blye boodskap deur die Here aan hulle bekend gemaak is — hulle sien die engel as God se spreekbuis. Hulle haas hulle na Betlehem en kry alles net soos die engel dit gesê het. Hulle gaan terug terwyl hulle God loof en prys.

Die storie is vol geskiedkundige inhoud, maar ook vol van die bonatuurlike. Die antieke geskiedskrywers, anders as moderne geskiedskrywers, het nie weggeskram om natuurlike en bonatuurlike gebeure te beskryf nie. Hierdie verhaal was reeds die afgelope 2 000 jaar ‘n bron van genade en seën — sonder al die tierlantyntjies wat ons so graag byvoeg.

uit: eKerk Nuusbrief

Wednesday
Nov302011

Die Lig was aan die kom

Hierdie loodglaswerk van He-Qi is die Chinese uitbeelding van die geboorte van Jesus deur He Qi. Dit is in die Dushu Lake kerk, Suzhou (Singapoer).

Lukas 2:10-14 Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! En dit is vir julle die teken: julle sal ’n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ’n krip lê.” Skielik was daar saam met die engel ’n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy

 

In die donker van hierdie wêreld val ʼn Ster in die skoot van ʼn jong meisie. Die wêreld is gebroke - die meisie in pienk, suiwer en rein. Die gesiglose boodskapper sing die vreugdelied terwyl selfs die skepping verwonder kyk, deels na die Christuskind, deels na die boodskapper. Die vader se lantern wil graag lig werp op die gebeure. Hy is steeds verwonderd oor die vreemdheid in sy eie lewe. Die Ster se lig verlig egter selfs sy lantern se lig. Verwonderd staar die herders na die hemel, terwyl die Christus-kind reeds op aarde is. (Dalk ʼn vermaning aan ons wat so graag staar en soek na antwoorde, raad en leiding terwyl dit reeds hierby ons aanwesig is).

In Sy handjies hou Hy die vrug van Eden, ongeskonde. Hierdie keer sal dit nie deur die mens verorber word nie. Hy bring heling en herstel in die gebrokenheid. Sy lig verlig die duisternis. Daar is hoop, lig, lewe en liefde. Kyk Maria “die moeder van God” na my? Vra sy dalk van my om nie te begryp, maar aan te gryp!

Mag jy ʼn geseënde Kersfees beleef. Bly getrou met jou tyd van stilte ook deur die Kersseisoen.

Wednesday
Nov302011

Ons is almal op reis saam met God

‘n Paar jaar gelede het ek die voorreg gehad om Israel te besoek en in Jesus se voetspore te stap.  Ons vlug was geskeduleer om te vlief van Johannesburg na Tel Aviv, maar sou ‘n paar uur in Istanbul oorstaan.  As gevolg van die opgewondenheid en in afwagting van die toer het ek reeds ‘n paar dae voor die vlug my tasse gepak en kon nie wag dat die langverwagte oomblik aanbreek nie.  Nadat ek aan boord gegaan het, het die ete en vlugvermaak gehelp om die oornag vlugtyd te verkort.  Nietemin, soos wat die ure verby gegaan het, het ek iets agtergekom.  Ek het slaperig geword, maar kon nie aan die slaap raak nie; my rugspiere het seer geraak, my klere het begin verkreukel, my baard het weer begin groei en ek was nie so vars soos aan die begin van die vlug nie.  Ek was bewus daarvan dat ek besig was om moeg te raak en ‘n behoefte aan rus en herstel gehad het.

By ons aankoms in Istanbul, kon ek vars klere aantrek, my gesig afspoel, was en skeer, tande borsel en reukweerder aanwend.  Ek het baie beter gevoel toe ek die ruskamer verlaat.  Ek het vars gevoel, was opnuut verfris en gereed vir die volgende fase van die toer.  Ek was op reis na Israel en sou in die voetspore van die Here Jesus loop.  Dit was my bestemming en doel ten einde dit te bereik, moes ek ‘n kaartjie koop, ‘n instapkaart ontvang, aan die lugdiens se reëls voldoen, en die reis na my bestemming so veel moontlik geniet.  Nietemin, alhoewel ek met groot opgewondenheid op pad was, het ek uitgeput en reismoeg geraak terwyl ek ongeveer halfpad op my reis was.  Ek moes myself verfris sodat ek die laaste fase van my reis kon voltooi. 

Ons is almal op reis saam met God.  Die reis begin die oomblik wanneer ons vir ons geestelike vliegrit aan boord gestap het.  Ten einde om op die vliegtuig te kom, moet ons Jesus as ons Verlosser aanneem en gered word.  Aan die begin van ons Christelike reis is alles nuut en opwindend om Christus te ken.  Ons wil graag met ander deel en hul vertel wat dit Here vir ons gedoen het.   Ons kan nie genoeg tyd spandeer om God se Woord te leer, te bid en met mekaar te deel nie.  Ons begin almal ons reis met God met groot entoesiasme, met ‘n opgewonde afwagting.  Ons het onsself onderskik aan die hemelse vliegtuig se voorwaardes, reëls en regulasies en dit gehoorsaam.   Ons het dit gelees, bestudeer en gehoorsaam, maar soos die tyd verby toegelaat dat ons fokus wegdraai vanaf ons eindbestemming en harte gevul word met bekommernisse, probleme, angstigheid en selfs sonde.  

Is jy moeg daarvan om te probeer om ‘n goeie Christen te wees?  Is jy oorlaai en uitgeput van kerklike en godsdienstige aktiwiteite?  Voel jy soms dat jy net besig is om Christelike geluide te maak?  Vind jy meermale dat jy geestelik leeg is?  Ervaar jy geestelike swaarmoedigheid, ‘n gevoel van mislukking of skaamte eerder as die vreugde, vryheid, die teenwoordigheid en krag van ons Here in jou lewe?  Indien jy ja geantwoord het op enige van hierdie vrae, dan is God dalk besig om jou tot iets dieper op te roep. Hy weet dat jy opnuut ‘n vars aanraking van Hom nodig het.

Wanneer ons harte begin om van God af weg te beweeg, raak ons tevrede om met die ritueel van geestelike aktiwiteite na te kom, om slegs die regte geluide te maak sonder dat God werklik in ons lewens teenwoordig is.  Ons kan selfs so gemaklik en tevrede met ons godsdiens raak dat ons nie eers agterkom dat God nie teenwoordig of naby ons is nie.  Is dit moontlik om te bid, ‘n aanbiddingsdiens by te woon of ‘n offergawe te bring, maar nie ware intimiteit met God te ervaar nie?  Dit is sekerlik moontlik!  Ware Christenskap is ‘n intieme, groeiende verhouding met die Persoon van Jesus Christus, waar ons meer en meer na Sy beeld verander word, sodat Hy Sy lewe in en deur ons kan leef.  Dit is nie ‘n klomp leerstelling wat ons moet glo, gewoontes wat ons moet beoefen of sondes wat ons moet vermy nie.  Godsdienstige aktiwiteite sonder gemeenskap met God is ‘n leë ritueel. Ons gebed is dat hierdie Kerstyd opnuut ‘n vars aanraking van die Here sal ervaar en ‘n wonderlike rustyd sal beleef en opnuut u batterye herlaai en u passie  en wonder van Jesus opnuut hoog sal brand vir die nuwe jaar.

uit: Heart Cry Nuusbrief

Tuesday
Nov292011

God intimideer niemand nie en steek niks weg nie

 

deur Gerhard Bothma - e kerk

“Ek hoor vanoggend van ’n man wat vir ’n honderd jaar tronk toe gestuur is”, sê iemand nou die dag. “Sjoe, dis erg. Wat het hy gedoen?”, vra ’n ander. “Hy’t in die straat af gestap en skree watse goete van ons regeringsamptenare glo aanvang”, kom die respons. “Maar dis absurd!”, reageer iemand anders en toe sê die persoon wat die gesprek begin het: “Ja. Een jaar vir openbare rusverstoring en nege-en-negentig jaar vir die uitlap van staatsgeheime.”

Omtrent niemand lag meer vir hierdie jare-oue grappie nie, maar ongelukkig is daar in baie lande uiters streng wetgewing teen die openbaarmaking van inligting oor regeringsake. Wat presies hier by ons gaan gebeur ná die besluite wat op “Swart Dinsdag” (22 November 2011) oor die omstrede Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting deur ons Nasionale Vergadering geneem is, sal ons nog moet sien. Die redes waarom die media en ’n veel wyer kring hierteen geprotesteer het is nie om dowe neute nie. Terwyl landsburgers se privaatsake amper tot in die fynste besonderhede vir die regering toeganklik is, is die media nou omtrent behoorlik gemuilband. Dis ’n enorme terugslag in die vestiging van ’n deursigtige regering en vir demokrasie, word deur talle kenners wêreldwyd gereken.  

 Nóg erger as dit, was die ANC se intimidasie van lede voor die stemmery. Hulle dreigement dat hulle ‘n “Ja”-stem verwag, dat die stemme gekontrolleer gaan word en dat daar teen ‘ongehoorsames’ opgetree sou word, het waarskynlik daartoe gelei dat 259 “ja”-stemme oor die 41 “nee”-stemme en 32 onbepaaldes gestoomroller is. Dalk is die satiriese definisie dat ’n demokrasie beteken dat burgers oor die individuele reg beskik om hulle eie diktators te kies, nie te ver van die waarheid af nie? Die waarheid oor baie onreëlmatighede, korrupsie, wat met belastingbetalers se geld gedoen word en so meer sal binnekort dalk nie meer gehoor kan word nie.

 In God se koninkryk, sê Jesus en baie ander profete wie se getuienis in die tekste wat in die Bybel opgeneem is, werk dinge anders. God intimideer niemand nie en steek niks weg nie. Vóór Jesus se bediening, lees ons in die Bybel, het God deur drome, gesigte en openbaringe met mense gepraat. In Jesus het God náby genoeg aan mense gekom en Hom op ’n radikaal nuwe manier bekendgemaak (1 Joh 1:1). Wat volgens Paulus “eeue lank” geheim gebly het, het in Christus bekend geword (Rom 16:25). In Jesus word God se wil aan almal bekend (Matt 12:18; Luk 20:21). Dis daarom ironies dat sommige mense allerlei “versteekte boodskappe” in die Bybel soek en vind, soos wat dikwels veral met die boek Openbaring gedoen word. Bloot die naam van die boek weerspreek hulle: dis ’n openbaring, ’n openbaarmaking, ’n bekendmaking (Op 1:1).     

 Al het Jesus sy volgelinge aanvanklik belet het om mense van hom te vertel (Mark 3:12) het hy later gesê dat dit waaroor hulle tot op ’n tydstip in die geheim of in die donker moes gesels nog in die daglig en selfs van dakke af uitbasuin sou word (Matt 10:26).  

 Mag dit wat jy sê en doen sonder intimidasie en geheimhouding wees. Mag jy opstaan vir hulle wat nie gehoor word nie. En mag jy self ook gehóór word.