God onderrig ons deur sy Gees
2012-01-24 12:49 Was jou posbus ook die afgelope ruk tot oorlopens toe vol van pamflette wat alles goedkoper as enige ander plek voorstel? Veral goete, soos skool- en skryfbehoeftes, rekenaars en ander belangrike benodighede vir al die kindergesiggies wat van hierdie week weer – of vir ‘n eerste keer – skooltoe is, is op so ‘n manier aangebied dat ek self aan ‘t koop wou gaan. Gelukkig het my aangeleerde dissipline en ‘n gedagteprentjie van die uitdrukking op die tannie by die bank se gesig my daarvan verhinder. In elk geval hét my ou pen nog ink in en my potlood is nog lank genoeg om vas te hou. En ek het nog ‘n hele hoop papier waarop aan die agterkant daarvan geskryf kan word.
Professor Jonathan Jansen, die rektor van die Vrystaatse Universiteit het ná die bekendstelling van verlede jaar se matriek-uitslae gesê dat die uitslae nie die papier waarop dit gedruk is werd is nie. Hy het verskeie probleme wat in ons skolestelsel bestaan en tot nou toe verbloem is oopgevlek. As sy kinders vandag nog skoolgaande was op universiteit moes wees, sou hy hulle nie in Suid-Afrika wou laat leer nie. Volgens hom is daar ‘n reuse gaping tussen dit wat op jongmense se skool- of universiteitsertifikaat of –diploma staan en dit wat hulle in die werklikheid kan doen. Veral die aanpassing van kinders se punte sodat leerders wat nie eintlik moes nie universiteitstoelating kan verkry en skole meer onderskeidings kan aanmeld, is van ons grootste probleme. “Ons moet terugbaklei teen middelmatigheid”, is deel van sy voorgestelde oplossing vir ons land.
Paulus het sy lesers aangemoedig om hulleself nie aan die standaarde van ander mense te meet en hulleself op die skouer te klop oor hul oënskynlike prestasies nie, maar om God toe te laat om hulle voortdurend te vernuwe, veral deur hoe hulle dink (Rom 12:2). Wat ons nodig het is nie die nuutste en beste skoolbehoeftes nie, maar ‘n behoefte om geleer te word en te leer. Vir die Spreuke-skrywer was middelmatigheid ook nie ‘n opsie nie. Hy het aan die begin van die skooljaar vir ons elkeen wyse raad: “Hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan. Roep insig by, vra na gesonde begrip. Soek dit soos jy silwer sou soek, spoor dit op soos ’n verborge skat” (Spr 2:2-4). Ja, dit kom nie vanself nie en is harde werk, Maar dit het ook ‘n verder uitvloeisel: “Dan sal jy weet hoe om die Here te dien, sal jy ontdek wat dit is om God te ken” (:5). Onthou tog dat dit dwaas is om wysheid en opvoeding gering te ag en waak daarteen dat jy dit nie doen nie (Spr 1:7).
‘n Mens kan genoeg geld hê om al die penne, boeke, liniale en wat ook al op pamflette adverteer word te kan koop, maar as jy jouself nie oopstel om te leer en jouself daarvoor inspan nie, gaan dit wat geld nie kan koop nie by jou verbygaan. God onderrig ons deur sy Gees (Neh 9:20). Mag jy begeer om te leer en jouself daartoe inspan. Mag jy aanhou leer en groei in kennis, insig en wysheid. En mag dit wat ander uit jou woorde en gedrag leer vir hulle meer werd wees as goud en silwer (Spr 16:16).

