Soek

« God onderrig ons deur sy Gees | Main | Die Kersverhaal: Die skaapwagters »
Wednesday
Jan182012

NUWE JAAR, NUWE HOOP – VAN WAAR?

Vir gelowiges is dit van selfsprekend dat ons bron van hoop God is. Prakties sou dit impliseer dat van uit die Bybel en gemeente ons die werking van die hoop, die omskakeling van die geloof na die praktyk sou ervaar en beleef. Is dit egter nog alles van selfsprekend? Vir jy wat dalk nou hier lees, is die gemeente, enige gemeente, beslis nie meer jou ruimte waar jy jou geloof prakties wil leer ken nie. Jy het dalk lank reeds gebreek met hierdie religieuse instelling wat niks anders as teologiese gimnastiek beoefen nie. Sondag sweef ons in die lug rond en Maandag val ons ons self stukkend in die regte wêreld.

My subjektiewe waarneming is egter dat meeste gelowiges wat hulle rug op ʼn gemeente gedraai het en nou glad nie meer in enige kerk op ʼn geroetineerde basis kom nie, ook dikwels die Bybel agter gelaat het. Nee, nie die Bybel verwerp nie, maar hulle lees dit nie meer nie. Dit is ʼn ou boek met irrelevante verhale. Dit sal jy nie hardop erken nie, maar saggies in jou hart die mening huldig.

Nou bly die vraag, waar kry jy dan jou hoop? Die “hoop” wat ek elke dag via my e-pos ontvang, dit is nou daardie e-posse met die pragtigste foto’s van blomme, berge, arende, katjies en nog vele meer, is dikwels soos spookasem. Die hoop duur solank as die e-pos se lees. Kom ons wees eerlik met mekaar, in die kits-samelewing werk God, met respek, dikwels eerder soos ʼn ou tikmasjien as ʼn tablet. Hy is stadig, die boodskap kom nie altyd deur nie en dit voel vir my ook of die inklint meermale uit is as in.

Tog moet ek oor eerlik wees en erken dat wanneer ek terug kyk op 2011 of 2010 of selfs langer, dan sien ek hoe God getrou gebly het. Dit is wat die Psalmdigter en die profete in die geskiedenis van Israel ook gedoen het. Hulle het meer male aan die kinders van Israel gesê “Dink terug!”. (Jes 44:21 Dink hieraan, Jakob, dink hieraan, Israel, want jy is my dienaar; Ek het jou gemaak, jy is my dienaar. Ek sal jou nie verlaat nie, Israel.)

Dink aan die dinge wat God in jou verlede wel gedoen en gevestig het. Sien Sy hand op die tydslyn van jou lewe en kyk dan vorentoe wetende dat Hoop by God geleë is. Hoop is die stille teenwoordigheid van Iemand groter as ek. Hoop is tussen die bladsye van die “Ou Boek” te vinde. Hoop is tussen die liedere, preke en gesigte van die gemeente te bespeur. Hoop wag vir jou op die mees onwaarskynlike plekke wat jy dalk reeds afgeskryf het. Dalk moet jy juis ter wille van hoop maar weer die Bybel voor jou bed sit en dit saans oopmaak. Dalk moet jy weer waag om in ʼn erediens te kom, dalk moet jy die besoek aan iemand bring wat jy al van vergeet het. Miskien moet jy êrens net tyd maak vir stilte in jou lewe. Mag Hoop jou die jaar verras.