Soek

« NUWE JAAR, NUWE HOOP – VAN WAAR? | Main | Die Lig was aan die kom »
Monday
Dec192011

Die Kersverhaal: Die skaapwagters

Kom ons kyk histories na die Lukas-verhaal. Josef en Maria was in Betlehem vir die volkstelling. Josef het tot die huis en geslag van Dawid behoort. Ten tye van Jesus se geboorte was Josef en Maria verloof en Maria was swanger. Destyds was ‘n verlowing so bindend soos die huwelik vandag is — dit moes formeel ontbind word. Joodse meisies was gewoonlik tussen 11 en 13 jaar oud as hulle getrou het. Swangerskap voordat jy getroud was, was ‘n skande — bruide moes maagde by hulle troue gewees het.

‘n Mens sou verwag het dat Josef en Maria eers verblyfplek by familie sou soek. Ons lees: Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat die kind gebore moes word. Waar het hulle gebly? Lukas sê dat Maria die Seun in ‘n krip neergelê het, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie. Waarskynlik het Maria haar baba gehad in die nederige agterste gedeelte van die ou familiehuis. Hier is die waardevolle diere van die familie ook gevoer en in die winter gehou. Die gastekamer was waarskynlik reeds vol. Betlehem was ‘n klein dorpie weg van die hoofweë geleë. Dit is onwaarskynlik dat daar ‘n herberg sou wees. Waarvan ons seker kan wees, is dat Jesus se begin nederig was.

Lukas sê nie dat Jesus se geboorte enigsins ongewoon was nie. Maar op die oop velde naby Betlehem was daar iets geheimsinnig aan die gebeur. ‘n Klomp skaapwagters was besig om oor hulle skape die wag te hou. ‘n Engel van die Here verskyn aan hulle. Lukas staan meer spasie af aan hierdie verhaal as aan die geboorte van Jesus self. Dit is bekend dat Betlehem een van die belangrike gebiede is waar skape aangehou is vir gebruik in die tempel (offers). As gevolg van hulle beroep is skaapwagters beskou as onrein. In Maria se loflied verwys sy na geringes wat deur Jesus verhoog sal word (1:52). Vir hulle sou die geboorte van die Verlosser beslis goeie nuus gewees het.

Dwarsdeur die Bybel is engele voorlopers van Goddelike optrede en boodskapdraers. Lukas sê dat die heerlikheid van die Here rondom hulle geskyn het. Geen wonder die skaapwagters was bang nie. Die engel stel hulle gerus: Moenie bang wees nie, want ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! Let wel: hierdie Verlosser is vir julle — die skaapwagters, die onreines, die minste — gebore. Die engel sê dat hulle ‘n kindjie toegedraai in doeke in ‘n krip sal kry — dit is vir julle die teken.

Dwarsdeur die Romeinse Ryk was daar inskripsies wat die geboorte van die keiser gevier het — hy het immers vrede na die gebied om die Middellandse See gebring. Caesar was beskryf as ‘n god wat as mens op die aarde rondgeloop het. Lukas gebruik hierdie selfde taal, maar beskryf nou hierdie Joodse pasgeborene van nederige afkoms as die ware Verlosser — die ware Here wat vrede na die aarde sal bring. Die keiser, Augustus, is ‘n vals god.

Die skaapwagters sê dat hierdie blye boodskap deur die Here aan hulle bekend gemaak is — hulle sien die engel as God se spreekbuis. Hulle haas hulle na Betlehem en kry alles net soos die engel dit gesê het. Hulle gaan terug terwyl hulle God loof en prys.

Die storie is vol geskiedkundige inhoud, maar ook vol van die bonatuurlike. Die antieke geskiedskrywers, anders as moderne geskiedskrywers, het nie weggeskram om natuurlike en bonatuurlike gebeure te beskryf nie. Hierdie verhaal was reeds die afgelope 2 000 jaar ‘n bron van genade en seën — sonder al die tierlantyntjies wat ons so graag byvoeg.

uit: eKerk Nuusbrief