Eldofam Twitter

   

 

Bediening: Senior Kerkaksie

Ons missie

Om senior lidmate aan te moedig om bestaande gemeentelike bedrywighede soos eredienste, senioraksies, ens, te ondersteun asook om onderlinge belangstelling in mekaar tussen hulle aan te moedig. Ons visie is dat elke senior lidmaat, vir so lank as moontlik, as ‘n volwaardige en gerespekteerde belydende lidmaat van ons gemeente sal kan meedoen aan die uitvoering van ons gemeente se algemene missionêre visie.

Wat ons doen

Elke derde Donderdagoggend van die maand, om 9:30, hou ons ‘n sosiale byeenkoms in die Lapasaal, volgens ‘n vooraf opgestelde jaarprogram. Ons hou gesellige oggende, kry talentvolle mense om op te tree, hou kennis- en musiekvasvrae, en gee geleentheid vir staaltjies vertel waar seniors spontaan uit die vuis hul eie stories kan vertel. Ons drink daarna tee en verskaf verversings. Daarna gesels ons nog lank met mekaar want vir baie is dit omtrent die enigste geleentheid wat hulle het om weer van hul ou kennisse te siene te kry.

Wat is nodig vir hierdie bediening?

Belangstelling is noodsaaklik. Waar nodig, moet seniors se familie en vriende gewillig wees om hulle by die kerk te kom aflaai en weer te kom haal, veral vir die wat nie meer hul eie motors bestuur nie en/of die sig baie swak is en/of wat moeilik loop. Geen spesiale talente is nodig nie, solank jy kan lag en gesels, en lus is om met ander seniors aangenaam te verkeer. Baie verborge talente kom dikwels so spontaan te voorskyn.

Ons storie

Ons het oor die afgelope meer as twintig jaar van ons bestaan geslaag om ‘n aangename groep seniors by ons bedrywighede betrokke te kry wat, onder andere, insluit skakeling met die gemeente tydens ‘n ‘seniornaweek’ waar seniors se kunswerke en /of handvlyt uitgestal word en kooritems, ens. gelewer word. Daar is ook ‘n ‘oupa en ouma’ oggend saam met die kleuters van ons gemeente. Ons sou graag ook uitstappies na besienswaardighede buite ons gebied wou aanbied, veral vir die ‘jongere’ seniors. Vervoer en die algemene mobiliteit van seniors skep egter dikwels ‘n probleem.