Sending-uitreike in Frankryk
2011-03-10 8:05 Hartlike groete uit Frankryk. Ons sien nogal baie uit na die son na die lange gryse en koue winter. Dit lyk of dit weer so -2° die naweek gaan wees! So geniet die sonskyn. Opregte dank vir almal van u wat ons geluk gewens het met ons eerste klein kind, Anna, se geboorte die 10e Februarie. Dit het ons harte verwarm om sulke kosbare vriendskappe te beleef van julle geliefdes wat ook bid en saam die sending taak in Frankryk volbring. Dit gaan goed met Anna en haar trotse ouers.
Die nege uitreike beplan vir 2011 is nou in volle beplanning. Vanoggend het ek die goeie nuus verneem dat die 130,000 Evangelisasie materiaal hierdie week in Frankryk in al die steke behoort aan te kom by die gemeentes. Ons loof God met ons hele harte vir die groot geskenk uit die hemel. Bid asseblief dat alles veilig verloop met die aflewering en vir die opmaak van die koeverte. Dit vra baie ure se hande arbeid voor die uitreike kan begin.
LET ASB OP : Daar is nog VIER PLEKKE oor vir die Senior uitreik in SEPTEMBER en nog TIEN PLEKKE vir die vyf ander uitreike in JUNIE – jonk en ouer welkom. Wil u nie God vertrou, volgens Sy wil, om vir U te voorsien om moontlik te kom help nie. Dit is ʼn grootste belewenis om in baie duisende mense se lewens ʼn verskil te maak deur ʼn koevert met die onbekende Goeie Nuus in hulle posbus te sit. Ons bid en glo dat dié saad op goeie grond sal val en dat “hulle wat die woord hoor dit sal aanneem en vrugte dra: een dertig, en een sestig en een honderdvoudig.” Markus 4.20 Indien u belangstel kontak asseblief direk die uitreikleiers ds Loffie Schoeman en ds Kobus van Zyl (sien inligting aangeheg)
Ons beplan om DV weer Suid-Afrika begin van 2012. Ons sien baie uit om julle te sien en hoop dat ons wedersyds tot seën vir mekaar sal wees. Ons besoek ook graag gemeentes om so ietsie te vertel van die Here se wonderlike werk in Frankryk (Eredienste, bidure, selgroepe ens.) As julle gemeente belangstel kontak asseblief Mev. Elize van Heerden e-pos : vh@lantic.net Tel:(058)4812452/(058)4813320 Sel: 0834445510. Sy koördineer ons besoekprogram.
Admin | Comments Off | 
