Mighty Kidz kamp Junie 2009
2009-07-26 19:27 Dalene Ferreira skryf:
Ons het reeds voorheen vertel van die baie suksesvolle Mighty Kidz kamp in die eerste kwartaal. Die tweede kamp het sopas tot 'n einde gekom.
Daar was 31 kinders, 5 groepleiers van Jesus is the only Hope Ministries, en 6 helpers van Pretoria. Hierdie kinders het gewissel van weeskinders tot uiters kwesbaar. Daar was 'n hele paar kinders met baie min of geen warm klere en wat baie opvallend was, was dat die ander kinders wat meer warm klere gehad het, van hul klere vir die ander geleen het om aan te trek. Ons het gelukkig geld tot ons beskikking gehad om sweetpakkies, tekkies en komberse te kon gaan koop vir die wat nie gehad het nie.
Daar is hierdie keer minder water aktiwiteite gedoen omdat dit winter is, maar die kinders en groepleiers het tog op die einde nie die koue gevoel in die dam tydens die roeisessie nie! Almal het dit baie geniet. By die hindernisbaan was dit weer opvallend hoe die groter kinders in elke groep die kleintjies oor die hindernisse gehelp het.
Aan die einde van die kamp is almal met warm harte weg huis toe en ons het weer nog meer gegroei. As mens kinders leer ken waar daar geen grootmense in die huishouding oor is nie, geen warm storte en dat selfs 'n enkele Jellie Baby gesigte laat verhelder, besef mens weer met hoe min jy wel kan klaarkom en hoe skatryk ons eintlik is. Ons sien almal uit na die volgende kamp in September.
Baie dankie Eldoraigne Familiekerk vir julle bydra om hierdie kamp moontlik te maak.
DGK | Comments Off | 
