Eldofam Twitter

   

 

Thursday
Mar102011

Sewe babas die afgelope Sondag gedoop

Die afgelope Sondag het die kerk gewemel met babas van allerhande groottes, en sewe van hulle is gedoop. Die kerk was gepak met trotse ma’s, pa’s, oumas, oupas en hier en daar ook boeties en sussies. Die seins was in die minderheid en daar was 2 seuns en 5 dogters.

Weereens baie geluk aan al die gesinne wat hierdie spesiale geleentheid meegemaak het. Welkom James, Annelie, Zeiri, Marlene, Edith, Regardt en Aliska.

Hieronder is foto’s van Sondag se eregaste:

Zelri de Beer

Regard Reynier Vermaak

Marlene van den Berg

James Alexander Botha

Edith Marina Otte

Annelie Roodt

Aliska Lia Smith

Thursday
Mar102011

Sending-uitreike in Frankryk

Hartlike groete uit Frankryk. Ons sien nogal baie uit na die son na die lange gryse en koue winter. Dit lyk of dit weer so -2° die naweek gaan wees!  So geniet die sonskyn. Opregte dank vir almal van u wat ons geluk gewens het met ons eerste klein kind, Anna, se geboorte die 10e Februarie.  Dit het ons harte verwarm om sulke kosbare vriendskappe te beleef van julle geliefdes wat ook bid en saam die sending taak in Frankryk volbring.  Dit gaan goed met Anna en haar trotse ouers. 

Die nege uitreike beplan vir 2011 is nou in volle beplanning. Vanoggend het ek die goeie nuus verneem dat die 130,000 Evangelisasie materiaal hierdie week in Frankryk in al die steke behoort aan te kom by die gemeentes.  Ons loof God met ons hele harte vir die groot geskenk uit die hemel.  Bid asseblief dat alles veilig verloop met die aflewering en vir die opmaak van die koeverte. Dit vra baie ure se hande arbeid voor die uitreike kan begin.

LET ASB OP :  Daar is nog VIER PLEKKE oor vir die Senior uitreik in SEPTEMBER en nog TIEN PLEKKE vir die vyf ander uitreike in JUNIE – jonk en ouer welkom. Wil u nie God vertrou, volgens Sy wil, om vir U te voorsien om moontlik te kom help nie.  Dit is ʼn grootste belewenis om in baie duisende mense se lewens ʼn verskil te maak deur ʼn koevert met die onbekende Goeie Nuus in hulle posbus te sit.  Ons bid en glo dat dié saad op goeie grond sal val en dat “hulle wat die woord hoor dit sal aanneem en vrugte dra: een dertig, en een sestig en een honderdvoudig.” Markus 4.20 Indien u belangstel kontak asseblief direk die uitreikleiers ds Loffie Schoeman en ds Kobus van Zyl (sien inligting aangeheg)

Ons beplan om DV weer Suid-Afrika begin van 2012.  Ons sien baie uit om julle te sien en hoop dat ons wedersyds tot seën vir mekaar sal wees. Ons besoek ook graag gemeentes om so ietsie te vertel van die Here se wonderlike werk in Frankryk (Eredienste, bidure, selgroepe ens.) As julle gemeente belangstel kontak asseblief Mev. Elize van Heerden e-pos : vh@lantic.net Tel:(058)4812452/(058)4813320 Sel: 0834445510. Sy koördineer ons besoekprogram.

Friday
Feb112011

GEMEENTE VERJAARSDAG!

Die NG Gemeente Eldoraigne ontstaan in 1971 met afstigting van uit die NG Gemeente Sesmylspruit. Ds G H Reinecke was die voorsitter van die afstigtingsvergadering en ook later die voorsitter van die eerste kerkraadsvergadering van die nuut gestigte NG gemeente in Eldoraigne. Hierdie vergadering is gehou op Sondagaand 21 November 1971 in die kerkgebou van die Sesmylspruit gemeente.

Ons sou dus kon sê dat die gemeente se verjaarsdag is 21 November is, alhoewel die afstigtingsvergadering plaasgevind het op 10 November 1971.

Ons gemeente is dus vanjaar 40 jaar oud! Wat ’n mylpaal! Ons beplan om gedurende Oktober en November groot fees te vier.

Ons nooi u nou reeds uit om deel te word van die beplanning en organisasie van hierdie groot geleentheid. Meld aan by Francois [bestuurder@eldofam.co.za]. Ons wil vroeg in Maart ons eerste beplanningsvergadering hou

Geskiedenis van ons gemeente:  Indien u oor foto’s, staaltjies en inligting oor die ontstaan en geskiedenis van ons gemeente beskik, e-pos dit asseblief aan Francois by bestuurder@eldofam.co.zaU foto’s sal aan u terugbesorg word.

Wednesday
May122010

Welkom aan ons nuwe musiekorganiseerder

Hiermee kennis dat Elsa Mare vanaf 01 Junie 2010 voltyds aangestel is as Musiekorganiseerder vir die 10:00 erediens asook vir die 18:30 erediens. Die 10:00 erediens se formaat word behou met orkes en voorsangers. Die aanddiens se musiekformaat verander in die sin dat hoofsaaklik van CD’s gebruik gemaak word plus voorsangers.

In alle gevalle is die musiekorganiseerder verantwoordelik vir die beplanning, uitvoering en formaat van die begeleiding tydens die verskillende eredienste.

Anria Breytenbach sal die Wintersangdiens en die Kerssangdiens beplan en behartig soos deur die BK besluit. Anria sal ook beskikbaar wees as plaasvervanger [soos vooraf gereel] wanneer die behoefte ontstaan.

Baie dankie aan Anria en Elsa wat op ’n aflosbasis die 10:00 erediens tot nou toe hanteer het. Musiek is so ’n integrale deel van die erediens en belangrike komponent wat nie altyd na waarde geskat word nie. Ons as gemeente is bevoorreg om mense soos Anria, Elsa, Ronel, Sarel en Ruan te hê wat ons op hierdie besondere wyse bedien.

Hiermee kennis dat Elsa Mare vanaf 01 Junie 2010 voltyds aangestel is as Musiekorganiseerder vir die 10:00 erediens asook vir die 18:30 erediens. Die 10:00 erediens se formaat word behou met orkes en voorsangers. Die aanddiens se musiekformaat verander in die sin dat hoofsaaklik van CD’s gebruik gemaak word plus voorsangers.

In alle gevalle is die musiekorganiseerder verantwoordelik vir die beplanning, uitvoering en formaat van die begeleiding tydens die verskillende eredienste.

 

Anria Breytenbach sal die Wintersangdiens en die Kerssangdiens beplan en behartig soos deur die BK besluit. Anria sal ook beskikbaar wees as plaasvervanger [soos vooraf gereel] wanneer die behoefte ontstaan.

 

Baie dankie aan Anria en Elsa wat op ’n aflosbasis die 10:00 erediens tot nou toe hanteer het. Musiek is so ’n integrale deel van die erediens en belangrike komponent wat nie altyd na waarde geskat word nie. Ons as gemeente is bevoorreg om mense soos Anria, Elsa, Ronel, Sarel en Ruan te hê wat ons op hierdie besondere wyse bedien.


Friday
Mar262010

Gebedsversoeke uit Frankryk

Ds Johan Bloemhof skryf uit Frankryk:

Jy het onlangs jou naam opgegee om te bid vir die Franse Sending of jy bid al jare lank. Ons is opreg dankbaar dat ons so saam deur God se genade ‘n groot verskil kan maak in vele mense se lewens – veral die kinders in Frankryk wat soek na God. Ons sien hoe die Here gebede daagliks beantwoord en is opgewonde dat ons saam so die oorwinning kan smaak.  Hy doen VER bo dit wat ons sou kon dink of bid.  Let asb. op dat ons stuur  twee nuusbriewe per jaar uit en elke drie maande ‘n gebedslys met ‘n spesifieke gebedsversoeke vir elke twee dae. Verder gee ons van tyd tot tyd so ‘n bietjie vars nuus oor wat die Here doen in Frankryk. Een maal ‘n jaar  gee ons geleentheid deur ‘n inligting, Bybelstudie en gebedsgids om oor 30 dae spesifiek in te tree vir mense in Frankryk en die uitreike om so die veld voor te berei vir die spanne wat na Frankryk gaan.

DRINGENDE GEBEDVERSOEKE : Rita BLoemhof het ‘n paar bloed klonte in haar been gekry en moes ‘n maand langer in RSA bly vir behandeling. Die dokter het nou die groen lig gegee om te kan terug vlieg. Sy het Dinsdagaand die 23e Maart teruggevlieg. Bid asb. dat alles goed verloop en vir haar beskerming teen die bloedklonte wat nie heeltemal opgelos is nie. Ons seun Jean het op die oomblik baie pyn in sy skouer weens ‘n mediese fout wat ‘n anatoom gevorm het. Hy het ook koors. Bid  vir volle spoedige genesing. Ons gemeente is tans besig met Evangelisasie aande. Bid vir ontvanklikheid van ons bure.

Saturday
Nov072009

Toerustinggeleenthede vir wanneer u tiener die “tyre” slaan

Ons tieners en gesinne is voortdurend onder baie druk en daarom wil ons u van Tienerbediening se kant af aanmoedig om die toerustingsgeleenthede wat tot ons beskikking is, te gebruik ten einde u  self te bemagtig vir wat ook al die uitdagings gaan wees wat oor u of u kind se pad mag kom. 

Onderstaande is inligting oor kampe  en geleenthede wat binnekort plaasvind wat u gerus kan oorweeg om u tiener op te stuur of self by te woon as dit van pas is vir u gesinsopset. Die opgaaf t.o.v. finansies en mannekrag om hierdie geleenthede vir ons gemeente alleen te organiseer, is net te hoog en daarom maak ons gebruik van ander instansies waar moontlik.  Heelwat van ons Jeug het al soortgelyke kampe bygewoon en praat met groot lof daarvan. 

Gretha was al spreker by ons tieners sowel as by die jnr. jeug se geleenthede en het werklik ‘n gawe om met die kinders te praat op ‘n vlak wat hulle verstaan. “She calls a spade a spade” en kan sonder die ongemak wat ons as ouers soms beleef wanneer ons oor sensitiewe onderwerpe praat, deurdring tot die leefwêreld (lees sekswêreld/drugwêreld) van ‘n tiener.


Groete
Ina Malan (Koördineerder:Snr.Jeug)

Graad 7-skoolverwisselingskamp 4-6 Des. net buite Pretoria. 

Ons noem dit ons GEAR-kamp, omdat ons kinders letterlik gear om gereed te wees vir die groepsdruk, en moeilike keuses wat voorlê in die hoërskool.  Hierdie kamp het al menige kinders se redding beteken by hulle eerste hoërskool-partytjie, of met 'n eerste hoërskool verhouding. Dis onomwonde een van die beste geskenke wat jy vir jou kind kan gee voordat hy/sy die hoërskool tref! Bespreek by info@grethawiid.co.za of skakel 012-543 3311

Mix&Fix-kamp vir hoërskool kinders!

Dis hierdie jaar vanaf 7-9 Desember (ook by Eksderde kampterrein net buite Pretoria). Ons het besluit om dit te hou in daardie laaste week voordat die kinders hulle finale rapporte kry.  Die skole is dan mos reeds nie-amptelik gesluit, en kinders hang rond en vang maklik allerhande onnodige en stupid goed aan.  Ons probeer dus om jou kinders se vakansie 'n klein bietjie korter te maak - sodat hulle nie teen 20 Desember reeds verveeld gaan wees nie.  By hierdie kamp bespreek ons keuses, verhoudinge, pêlle, verwerping, drank, partytjies, die groot onderwerp van seksuele dinge, en ultimately die droom wat in die tieners se harte moet leef.  Hierdie is genuine elke jaar 'n hoogtepunt in my kalender.  Om tieners van regoor die land, van verskillende ouderdomme te sien waar hulle deal met seer, oomblikke van spyt, gevoelens van waardeloosheid, en onwaardigheid, is iets wat jy vir niemand kan beskryf nie.  Kinders kry hoop, maak nuwe keuses en herprioritiseer hulle lewens.  Jou R500 kan jou kind se lewe dalk onherroepelik verander - selfs red.  Bespreek by info@grethawiid.co.za of skakel 012-543 3311

Ouerskapdag vir hersaamgestelde gesinne of geskeide ouers deur Gretha Wiid 21 Nov.

Ons gaan die ding van dissipline, kommunikasie, rusie tussen die nuwe boeties en sussies, asook ouers se hantering daarvan bekyk.  Die impak wat hersamestelling op 'n huwelik het, gaan ook gedek word. Bespreek by www.itickets.co.za of skakel 0861 000 291 (bespreking oop vanaf Vrydag 6 November)

Monday
Jul272009

Gebedsversoeke van die mannebediening

Die volgende gebedsversoeke is Sondagoogend 26 Julie 2009 tydens die ELDOMANNE VEROOTMOEDIGING geleentheid opgegee. Kom ons bid saam met hiedie manne en dra die vesoeke op na God.

  1. Voorbidding vir my Vader in sy siekbed. Bid asseblief vir spoedige beterskap. (Johan Diedericks).
  2. Voorbidding vir my vrou na ‘n groot operasie en ook vir die opvolg behandeling.
  3. Bid vir groter gemeente betrokkenheid, maar manne vir die Here se groot werk in Eldoraigne. (Kallie Bodenstein)
  4. Bid vir die “Draai na God“ veldtog in Suid Afrika. Bid dat ons in ons gemeenskap hier in Eldoraigne hierdie vlam kan laat brand. Ook vir die huidige temas wat ons in die mannebediening voorhou vir die veldtog.(Andrew Doyle).
  5. Bid vir ons 40 dae projek wat eerskomende sondag begin. Wysheid vir ons leeraars en almal wat reelings tref vir die geleenthede. Ook betrokkenheid van die gemeente.
Monday
Jul272009

KOUE STOP NIE MANNE OM HULLE NA GOD TE DRAAI NIE

Die afgelope Sondagoggend het die ‘Draai na God’ veldtog afgeskop in Eldoraigne Familiekerk. Hierdie veldtog is ‘n inisiatief van die mannebediening om manne te mobiliseer om in die gemeenskap ‘n verskil vir God te maak. Vier temas word aangebied en die eerste een word hier op verslag gedoen.

Op ‘n baie koue minus 1 oggend, het 45 mans hulle kom verootmoedig voor God. Kofiie was voorgesit in die kerksaal teen 05:45 en eers het dit gelyk of dit moeilik gaan wees om die manne daaruit te kry en in die kerk in. Toe die eerste loflied egter begin speel was die groep voltallig. Dit was duidelik dat 45 manne nie sommer net ‘n vroeë oggend van pret in die koue wil kom beleef nie, maar dat God elkeen geroep het en aangespreek het om daar te wees. Die lofliedere wat die manne gesing het was danksy ‘n opname van ‘n vorige Danielkonferensie, maar treffend. Dit was wonderlik om manne te hoor sing met oorgawe tot God.

Ds Sybrand van Niekerk se boodsakp aan ons was op die man af. ’Maak reg wat jy verbrou het en God sal jou seën.’ 2 Kronieke 7: 14 was die basis van die boodskap. Ons moet ons verootmoedig en bid en wegkom van ons verkeerde wee, dan sal God hoor, ons antwoord en ons land gesond maak. Ds Sybrand het genoem van Bybelse manne wat lekker verbrou het maar God het hulle geseën. Jakob het sy vader bedrieg, maar ons praat vandag van die God van Jakob; Moses was ’n moordenaar, maar God gebruik hom om Sy volk te lei; Simson kon nie ’n vrou uitlos nie, maar God gebruik hom om die Filistyne van Sy volk te keer; Paulus het Christene vervolg, maar God gebruik hom om die evangelie te verkondig. Daar is ook ander soos Dawid, Elia en Petrus. Hoeveel te meer skiet ons as mans te kort van hierdie groot name? Die uiteinde is: God het ons lief, Sy Liefde is onvoorwaardelik. Hy sal jou nie verlaat nie. Ons moet in aksie kom deur te BEGIN. Leef God se liefde uit deur dit te doen.

Na die duidelike boodskap van Ds Sybrand het die manne in klein gebedsgroepies opgedeel en met God gepraat oor die feit dat ons as manne niks kan wegsteek vir Hom nie en dat Hy ons lewens ken. Manne het hulle verootmoedig voor God en die erens van die saak benadruk in Sy teenwoordigheid.

Kort gespreke daarna asook tydens die eredienste die dag onder van die manne, was dat ons ander manne ook moet intrek. Ons het egter eerstens ’n verantwoordelikheid om God eerste te plaas in alle opsigte. Kom ons as manne ondersteun mekaar in dié opsig om God te vertrou in alle opsigte, dan sal Hy ons seën.

Die maklike gedeelte is afgehandel naamlik om te luister. Ons taak is nou om te reageer. Gaan maak reg, vra onverskoning, wees die minste, Bid tot God gedurig en prys Hom vir dit wat Hy vir jou gaan doen.

Mag julle almal die week ’n week van God se vrede beleef en Christus se onbbatsugtige liefde uitsraal en leef, waar julle ook al mag gaan. Sien julle almal weer Sondag oggend 06:00 (2 Augustus 2009). Vertel nog ’n man van jou belewenis met God en bring hom Sondagoggend saam. Koffie sal reeds teen 05:45 reg wees.

Sunday
Jul262009

Mighty Kidz kamp Junie 2009

Dalene Ferreira skryf:

Ons het reeds voorheen vertel van die baie suksesvolle Mighty Kidz kamp in die eerste kwartaal.  Die tweede kamp het sopas tot 'n einde gekom.

Daar was 31 kinders, 5 groepleiers van Jesus is the only Hope Ministries, en 6 helpers van Pretoria. Hierdie kinders het gewissel van weeskinders tot uiters kwesbaar. Daar was 'n hele paar kinders met baie min of geen warm klere en wat baie opvallend was, was dat die ander kinders wat meer warm klere gehad het, van hul klere vir die ander geleen het om aan te trek.  Ons het gelukkig geld tot ons beskikking gehad om sweetpakkies, tekkies en komberse te kon gaan koop vir die wat nie gehad het nie.

Daar is hierdie keer minder water aktiwiteite gedoen omdat dit winter is, maar die kinders en groepleiers het tog op die einde nie die koue gevoel in die dam tydens die roeisessie nie! Almal het dit baie geniet.  By die hindernisbaan was dit weer opvallend hoe die groter kinders in elke groep die kleintjies oor die hindernisse gehelp het.

Aan die einde van die kamp is almal met warm harte weg huis toe en ons het weer nog meer gegroei. As mens kinders leer ken waar daar geen grootmense in die huishouding oor is nie, geen warm storte en dat selfs 'n enkele Jellie Baby gesigte laat verhelder, besef mens weer met hoe min jy wel kan klaarkom en hoe skatryk ons eintlik is. Ons sien almal uit na die volgende kamp in September.

Baie dankie Eldoraigne Familiekerk vir julle bydra om hierdie kamp moontlik te maak.

Kyk die foto's!